Moderne Gnostisisme

Die term Gnostisisme verwys na 'n verskeidenheid antieke Mediterreense geloofstelsels wat veral in die 3de eeu n.C. groot invloed uitgeoefen het en ook een van die Christelike hoofstromings was wat moontlik na Jesus van Nasaret en sy volgelinge teruggevoer kan word – alhoewel die Gnostisisme reeds in voor-Christelike tye bestaan het. Die Christelik-Gnostiese stroming het kerkorganisasie, priesters en 'n letterlike uitleg van die Griekse Skrifte (waarvan 'n deel later die Nuwe Testament gevorm het) verwerp. Voor die 20ste eeu was egter min bekend oor hierdie hoofstromings van die Christendom, veral omdat outentieke bronne nouliks beskikbaar was.

Sedert die ontdekking van die Nag-Hammadi-geskrifte in 1945 en hulle vertaling in Duits, Engels en ander moderne tale in 1977 het die Gnostisisme wyd bekendheid verwerf en groot invloed op 'n aantal moderne figure, maar ook die Westerse kultuur in die algemeen uitgeoefen. Baie mense het gevoel dat die meeste Christelike kerke Jesus se ware boodskap verloën het.

In die proses is onder meer Maria Magdalena as die Apostel van die Apostels en sentrale figuur van die vroeë Christelike beweging geïdentifiseer wat moontlik ook die outeur van die Evangelie volgens Johannes was 'n evangelie wat merkwaardig van die ander drie kanonieke evangelies verskil.

Gnostiese oorlewerings en wyshede het danksy Dan Brown se blitsverkoper-roman The Da Vinci Code ook groot belangstelling by die publiek gewek en gevolglik 'n groter invloed op die hoofstroom van die moderne popkultuur begin uitoefen. Brown se verhaal is ondanks sy bewerings fiktief en nie altyd juis ten opsigte van sy geskiedkundige besonderhede nie, maar nogtans is die hipoteses van sy werk saam met Gnostiese gedagtes in die sekondêre literatuur en in televisieprogramme breedvoerig behandel. In sommige lande, waaronder ook Suid-Afrika, het evangeliese yweraars selfs genoodsaak gevoel om polemieke teen sowel Brown se roman asook die Gnostisisme op die internet te publiseer.[1]

  1. "Misleiding van "The Da Vinci Code"". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 September 2007. Besoek op 28 Augustus 2007.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search